LEIPOLDT, C. Louis


VII Die aakligste


Dit is die bitterste van alles, dit,

Dat wat ek liefgehad het, wat nou dood

En weggeleg is in 'n kis van lood


En sederhout, onsterflik êrens sit,

Of swerwe as 'n spookwolk silwerwit,

Deur onbeperkte magte voortgestoot -

Miskien, soos ek, verlate, of in nood,


Maar onbereikbaar, ook al smeek en bid

Ek heel die dag en jammer al my tyd.

Dit is die bitterste dat ek geen hand

Kan uitstrek, hulpvol, meelyend in my smart;


Geen steun kan gee, hoe hard en swaar die stryd;

En dat daar swerwe in die Dodeland,

Verlate, wat ek liefhet in my hart!


Die Einde

Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,

Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;

Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;

Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;

Gee, dat ons lag, as die lewenslas druk op ons harte;

Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;

Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe

Smart en verdriet, met die reg om uiteindlik te sterwe.

Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister

Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:

"Moed, mense, hou moed!

Die kwaad sal verander in goed:

Die môrelig kom uit die duister ."


XLV


Dit is die einde! Wat het jy gewen?

Verdriet van wat tevore joue was,

Verdriet wat vreet soos yster heet met vuur

Wat gloeiend in die vlees sy vyand ken.

Dit is jou loon hier op die laaste uur,

Dit jou vergoeding vir die sware las

Hier op die einde - alles wat jy wen.


Dit is die einde! Wat het jy behaal?

Smart wat genadeloos jou siel verdruk

En hoop op wat hiernamaals kom, verslaan.

'n Nuwe wêreld, grys verbleek en vaal,

En Sodomsappels wat in as vergaan.

Jy het gewerk, gehoop, gely, gebuk -

En dit is alles wat jy nou behaal.


Dit is die einde! Wat het jy gekry?

Ellende, jammer, droefnis dag en nag,

Met nou en dan 'n greintjie van plesier,

Wat wegglip soos die skadu's oor die vlei,

Waarmee geen mens 'n arwelfees kan vier.

Vir al jou afgewerkte sielekrag -

Dis alles op die einde wat jy kry.


Dit is die einde! Wat kan jy verwag?

Dat wie jou hier geken het, sal vergeet

Hoe klein jou siel in armoed hier moes krimp,

Te suinig af te gee van al sy prag -

'n Sieltjie selfs te min om oor te skimp;

Om stil te slaap; van niks meer iets te weet -

Dit is die grootste wat jy kan verwag!


Wys My Die Plek


Wys my die plek waar ons saam gestaan het,

Eens, toe jy myne was -

Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,

Vroeër, toe jy myne was.

Kyk, dis dieselfde; die silwer see

Blink in die sonskyn, soos lang verlee

Dit eenmaal geblink het, 'n welkomsgroet

Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.


Wys my die plek waar ons saam gekniel het,

Eens, toe jy myne was -

Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,

Vroeër, toe jy myne was.

Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,

Lag soos voorheen op my en op jou;

Dit skitter nog altyd 'n welkomsgroet

Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.


Wys my die plek waar ons saam geloop het,

Eens, toe jy myne was -

Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,

Vroeër, toe jy myne was.

Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,

Wie van ons twee moet die meeste dra ?

Jy wat vergeet het - of ek wat boet

Vir my liefde wat uithou en alles vergoed ?


Ek sing van die wind

Ek sing van die wind wat te keer gaan;

Ek sing van die reën wat daar val;

Ek sing van ons vaal ou Karooland;

Van blomme wat bloei by die wal;

Van water wat bruis oor die klippe;

Van duikers wat draf oor die veld;

Van voëls wat daar sing in die bossies -

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Vir my sing maar liewers van blomme;

Van al wat die vlei laat verkleur;

Van al wat die sonskyn laat spartel;

Van voorjaar en najaar se geur;

Vir my sing maar liefs van die water;

Van duikers wat draf oor die veld;

Van rotse en branders en wolke -

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!


Die soutpan


Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal

Die see daarbuite waar die branders breek:

'n Strand vol klippies en 'n poltjie kweek

Van ruigtegras, nou nie meer groen maar vaal.

Hier praat die veld 'n onverstaanbre taal;

Hier maak die son die blou soutwater bleek,

Totdat hij saands vermoeid sijn kop versteek

Agter die duine, waar sijn glans verdwaal.

Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,

Glad, silverwit, en met 'n goudgeel lijs

Van modder en klei - hier dun en daar nog dig.

So arm die wêreld hier, en tog so mooi:

Stil, als 'n oumens amper o'er sijn reis

En met die Dood se skade op sijn gesig.