ROOS, Linda



Die straatkind


ek wou verbymik met die selfbewuste ongeërgde blik

wat ons vir bedelaars en pendelaars en hoere reserveer –

verby die kind wat eenkant om die vullisdromme snuif

wat sy skraal skouers gereed dra soos spiese

of 'n heining: maar agter dié heining

het sy vuil hemp skielik opgekrimp soos 'n ou roof

en 'n toegepleisterde wêreld

op die sypaadjie laat bloei

waar bome onder die skril bevel van sae steun

konyne spartel in steriele laboratoriums

en lammers teen die slagterslem

en daar was wysheid in die lug

(nes dié ander dag uit wolke)

maar soos van ou mans met klam monde op parkbankies

en kras soos kraaie

toe ek wegdraai was daar 'n geruis in my ore

en onverklaarbaar teen my wang die bloedveeg

van 'n vlerk