MALHERBE, D.F.



Vergeet nie

…..
Dit is 'n vervelige middag, een van die dage waarin die noordwestewind in woeste, wilde togte heendreun oor die lande. In die voormiddag al het die wolke aangeswel, dikker en dikker, regte veelbelowende donderwolke. Maar nog voor hul die heerlike waterstrome kon laat neerstort, waarnaar elke bossie hijg en die veetjies smag, het die westewind opgekom - die hoopbederwer van die Karrooboer - en soos 'n wrede furie wat daar 'n helse behage in skep om die segenbrengende krag te verstoor, vlieg hij tussen die wolke in en skeur hul uiteen met dreunend en druisend gebaar. Wild klop hij hulle uiteen, die swaargepakte wolkemassa's, soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte klomp vee, totdat hul uitgedun heenseil, éen-éen wegsmeltend onder sijn verskroeiende asem en die lug weer vrij neerblouw in die hittige sonstrale. En als hij so invaar onder die wolke, die reuse-harlakijn, die skroeiendhete lugte-reisiger, en met sijn windhande so oor die grond en verdorde bossies heenskuur, dan warrel hij op ijslike stofberge, waar hij die lug oorlaai met warrelstowwe en sandhope, alsof duisend mensehande met die magtige swaaie van swaar skopgrawe mekaar sand in die oge strooi. Op gaan dit in die lug tot die lage dunner word en vervlieg. Uit die verte ruk dit nou aan, 'n geweldige stofdeining hoog als 'n berg, aangroeiend met dreunende rukke tot dit heenwoel met duiwelse krag oor die huis.

…..