CLOETE T.T.



Oranjerivier


Hy is oud.

Onuitputlik hou hy stokoud aan

van voor die geskiedenis se ontstaan.


Hy is stoer

en vol nukke is hy geaard.


Dán loop hy met vaart,

dàn is sy gang ’n dun sloer.


Vir wie hom wil bevaar

is hy onvriendelik en ontoeganklik.


Hy loop soos sy likkewaan swik.


Stadig voel-voel mik

hy waggelend na links, na regs, heen en weer,

dán na algulhas en dàn na die ewenaar

se kant.

Hy het die baber en geelvis geleer

om soos hyself stadig te laveer.


Hy tel vaarlandswilgers en fluitjiesriet

op en landerye en vee weerskante.


In hom dra hy son- en maanlig en hy voel diamante

diep uit die aarde se ingewande

uit. Hy poleer die graniet.


Met die uithouvermoë en durf vir langafstand

loop die sleurmaratonatleet dwarsoor die land.


Dwarsoor die kontinent loop

hy dwarstes oop

en alle weerstande,

hy pyl deur ravyne,

gaan deur vlaktes tussen koppies en rante


deur, verby stede en dorpies, oor plase, deur dor woestyne


en neem van alles iets saam, hoe gering ook al,

weste toe, na die diep weste toe, miriadeskere sonder tal,

waar hy saam met sonne die een na die ander afval


sedert genesis, af, af, áf in die diepte voor sy mond,

agter, ágter die see in, in ’n onlesbare dors afgrond.



foto van vrou by die see 1966


geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,

afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis

sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig

van die glansende see en geel wasige donsson

mymerend en byna deursigtig.

toe was sy nog veilig. hoe

veilig was sy toe

sy sit aandoenlik ingedagte en sereen

met die weerkaatsing in haar agteroorgesig

van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas

vingers aan die pols van die ander een

hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas

effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig

na haar vingers. die sigbare

stilte swyg. die oureool in haar hare

gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand

hang tastend af aan haar geknakte pols hoog

bo die skerp stut van haar elmboog.

elders, ver, baie ver veraf elders doenig

is die kanker met ‘n ander iemand

wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n broekpak by die venster in die lig

van die blink see en geel wasige donsson

dromerig mymerend en byna deursigtig

skimmig geskryf met lig



Anna


In die ryping van ons jeug

het ons mekaar met die Prediker verheug.

En nou al meer en meer vel en been sonder

vleis is ons saamhoort ‘n groeiende wonder.

Baie van die rypword het ek vandag

vergeet en ons smoorverlief se smoor

is lankal oor en baie van ons saamlag,

maar ek het nog fragmente daarvan oor

in my onthou. Ons het saam in ‘n helder son

in a somer sesoun, whan softe was the sonne

in Brugge geloop. Ek onthou die carillon,

Gezelle se huis, gragte met swane

en Villon en Carcassonne

en ‘n mooi skildery van ‘n courtisane

in die Louvre, maar van alle onthou

van my en van jou onthou ek jou

helder langs my, in profiel langs my

oral uit die wit lig van my land gesny.

Daar is jy in ‘n fyn helder omtrek

dit in die helderste helder hou ek

teenaan my.

Ek herken jou voetstap in ‘n besige straat

in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.

Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.

Kyk ek sonder jou, is daar skille

oor my diep oogkasse, ek

kyk sonder pupille.

Ek soek jou omtrek om my getrek,

ek soek jou in die appel van my oog.

Kyk ek na die melkweg, in die gras,

in die water, na die boog

van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.