OPPERMAN, D.J.
Vuurbees
Die buffel ken geen metafisika:
hy soek die soetgras
en die kuil,
hy sal die kalf karnuffel,
horings in sy vyand gra,
die koei besnuffel,
teen hael gaan skuil,
maar geen vrae oor môre vra –
die buffel ken geen metafisika.
Alleen die mens
tref in sy swerwe
tussen hede, toekoms en verlede
die spleet tot grotte
van die rede:
hy maak ’n mes,
’n vuur,
skep gode,
dink aan sterf,
prewel gebede
en moet beswerend teen ’n muur
van sy spelonk die buffel verf;
die buffel van die metafisika:
die vuurbees in homself
volg, buig of bars,
enduit sy drif en drome na,
en prikkels van die brein
word piramides, Laaste Avondmaal,
wiel, chroom,
projektiele, produkte van atoom,
et cetera.
En voor sy besete blik
besef die enkeling
ontsteld
hy sal ook nie terugskrik
vir die alles-uitwissende slagveld –
stukkend lê alreeds
die Parthenon en Hirosjima
in die bose skoonheid van geweld.
Die buffel ken geen metafisika.
Nagwaak by die ou man
Die wind waai waar die otter blink die kuil
verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,
fluit uit spelonke van die nag en ruis
egalig deur basbome om die huis,
maar tussen balke en vaal mure brand
‘n kersie in die kamer stil eenkant
oor sy beroerte-liggaam, soos ‘n maan
oor stukke seilskip teen ‘n kaap vergaan,
waar ander strome aan die wrakhout roer
en weg van wind-omwaaide rotse voer.
…..
Maar wind sal waai, ’n otter blink sy kuil
verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,
die lanp sal oor my liggaam brand, ’n maan
oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,
en uit my sal die jongeling op die strand
hom vind waar bosse van ’n nuwe land
waaroor die wind nog waai, die weerlig vleg,
en teen die tier sal hy die stryd besleg
maar weet ons voorvaders met ruie baard
die streke van die gees bly ongekaart.