CUSSONS, Sheila
13 januari
Vreemd, die geluid van soveel voëls
in hierdie bitter wind,
die middag kil soos staande water,
elke knipperende oog
in die lower swart van vlerke.
Dié dag gedenk u ysige doop
toe U deur droewe water
ons donkerte aangeneem het –
My bloed by net die dink daaraan
krimp klein na binne toe –
Geen duif vliegt uit die spar en den,
’n duif so wirwar soos son;
geen wit is so wit soos wit wat koud is,
dit skuil in hierdie swart lug.
En nou in de lower
is alles stil: die eerste vlokke val.
Christ of the burnt men
(Thomas Merton)
Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
E ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.