EYBERS, Elisabeth


Die geskenk


Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:

ook die meerblou lug tussen wit wolke-oewers het

myne geword,

die dromerige rookblou van ver rante,

die pêrelblou van die skemering

en die roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.


Jy het my meer gegee as die beroering van jou hande:

die lug het teerder om my gevloei,

die aand het my inniger as voorheen ontvang in sy

koele omhelsing

en die wind het gaan lê op my bors.


Jy het my meer gegee as die besorgdheid van jou stem:

die bome het hul takke behoedsaam geneig

en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.


Jy het my meer gegee as die drang van jou bloed:

die warm krag van die aarde het deur my gestroom,

die sap wat lentebotsels uitstoot het gepols in my are

en die Ewige Lewe het ontkiem in my skoot.


Jy het my meer gegee as die droom van een nag:

al die verlore drome van my kindertyd het teruggekeer

en in my oë het jy sterre aangesteek,

te helder om te vlug vir die daglig.

Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde

was, het jy my gegee.

Jy het my meer gegee as jou liefde:

die guns en die liefde van God.


Ouer Word

'n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,

'n stipter onderskeiding word van krag.

Wat ek verloor het suig my terug in drome,

hul nagtelike helende verwarring;

wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra

my onversetliker van dag tot dag

met afgepaste tydverdryf en werk.

Ek hul my heelheidshalwe in 'n huis

wat stuksgewyse toeslik tot 'n kluis.


Iets wat 'k onthou: eens was ek 'n beminde

kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,

deur louter eindeloosheid ingeperk.


Sonnet

Nou het ek jou reeds aarselend lief soos mens
die onvoltooide dinge sku bemin;
jy is nog niks as droom, ekstase, wens,
‘n lied wat ek nie duidelik kan versin.

Ek ken jou nie en kan jou skaars vermoed
maar dieper as die hamer van my hart
wentel jou ongeduld; ons deel één bloed
en, vreemd verenig, bly ons tog apart.

Wat sal díe dwase liefde later baat
as ek jou ken en tog nie langer het,
nie langer kan beskut teen alle kwaad
en alle teerheid langsaamaan verdwyn?

Die worsteling wat jou moet verlos is net
die aanvang van die skeiding en die pyn.


Die moeder

Die vreemde oorsprong van jou lewe het,

soos lig deur ’n kristal, deur my gevloei

in al die maande toe ek één was met

die stil geheim van jou verborgene groei.

En nou kan niks ons skei – want is jy niet

afhanklik en gebonde aan my bloed

wat met sy onbegryplike chemie

jou wonderlik gevorm het en voed?

En of die uur ver en vergete word,

en of die jare tussen jou en my

hul seile span, die see sy golwe stort,

of self die Dood sy somber baken steek,

nogtans sal jy aan my gebonde bly

met die onsigb’re naelstring wat nie breek.


Ek moes deur baie pyn


Ek moes deur baie pyn om mens te word,

om in myself die wyer Self te herken;

my dure nardussalf was uitgestort

eer ek die ryker erfenis kon wen


waarna my eenling-siel wanhopig stry

of wat hy trots versmaai: eers toe my gees

net daar was om my liggaamspyn te ly

het ek geleer om mens, om vrou te wees,


een uit die effe menigte. Blydskap,

so sterk en rustig soos ‘n groot, stil man,

het oor die drumpel van my hart gestap


en daar geen hoë waan of bitter wens

gevind. Ek het my opeens ontdek: voortaan

nie meer, goddank! half-god, half-gek, maar mens!


Portret

Soos ‘n gety wat nie meer beur

maar saggies wegsak van die land

so skuif die dun bloed langsaam deur

die donker are op my hand.


Die dae en nagte bly

nou ewe dof en droomdeurweek,

ek voel of alles rondom my

sag wegsmelt sonder om te breek.


Die dinge digby word verward,

maar wat verby en ver was staan

nou stil en helder en apart

waar alles wat gekom het gaan.


Ná al die jare word die huis

weer leeg en groot soos vir ‘n bruid

en telkens moeisamer die reis

van bed na tafel, stoel na ruit.


Met mooiweer sit ek voor die raam

en as ek deur die laning staar

gly lig en skaduwee tesaam

en word ek vreemde goed gewaar.


Maar as ek trae woorde vind –

want alles het wee wonderbaar

en nuut geword soos vir ‘n kind –

dan kyk en knik hul vir mekaar.


Ek weet wat hulle dink. Ek weet

ook dat ek dit nie is, dat ek

alleen die naam en vorm vergeet

en nou die dinge self ontdek.


Nie een is daar wat my beny

van die wat sterk en regop is,

vol haas en angs, noudat in my

daar niks meer agterbly as rus:


die eindelike rus as sag

die kersvlam groei en krimp en groei

en plotseling wegsink dat die nag

soos watermure oor my vloei.



Toneel: Keulen 1948

Uit hope gruis en steen rank vreemd en lig

die hoekige skelet van draad en staal:

al is die tema oud en teatraal,

die décor skep ’n nuwe ewewig.

Die spelers volg mekaar soos mens verwag:

die langhaarseuns wat met astrante taal

printkaarte ruil voor rookgoed, dan die vaal,

verslete vrouwe wat in die broodtou wag.

Die man wat deur die puin ’n waentjie trek,

die kortrok-holoogmeisie langs die straat

wat pleitend met die afbeenkêrel praat,

die hond wat aan die goor plaveisel lek.

Alleen die kinders, soos ’n Griekse koor

afsydig, gaan geslagtelank hul gang:

solank hul speel, is hul nie koud of bang,
nie honger meer… en die toneel verloor

al sy groteske oppervlakkigheid

en word die lewe, skoon en waar en wyd.


Die lang nag

Ook wanneer die slaap jou verstoot

mag jy jou op die lang nag verlaat:

die uitsig strek eindeloos heel,

vereffening herroep elke nood.


Die ondeuglike nag bied geen raad

hoe jy ook al die ure indeel,

met sy afbraak verstuif stuk vir stuk

klein prikkelende splinters geluk.


Jou bloed op sy blinde beloop

laat hom nie voegsaam bedaar,

trek lukraak registers oop

tot jy willens die lang nag aanvaar.


Gesprek


Herinnering, uitgedaag tot dialoog

en vroeër voëlvry, vaag en ongestuit,

tuur wit-oog rond maar uiter geen geluid,

strompel dan blindelings teen ’n skrikdraad vas,

bly bibberend steek binne die strak betoog

wat logika reghoekig om hom pas.


II

Soms ge eek die verkeerde antwoorde

of skenk meer aandag aan die donker klank

as aan die suiwer sin van wat jy sê.

Jou drang na helderheid vertroebel my

en tik my terug na my skaduterrein.

ek smeek jou, luister dan niet na my lippe nie

maar na die waarder weerwoord van my hart.



Herinnering


As kind het 'k eens die maan se ronde skyf

langsaam sien uitswel bo die silwer vlei

om saggies soos 'n seepbel weg te dryf

en tussen yl popliere in te gly.


Agter my in die donker was 'n raam

vol lig en mensestemme en gelag

en ín my angs en weekheid sonder naam

terwyl ek op die maan se loskom wag.


Die res is alles duister en verward…

Van tak tot tak het hy gewieg… ek weet

nog net dat die gekneusde gras se geur

soos naeltjies was en dat ek skielik seer-

gekry het van die inkrimp van my hart

en met my pols die trane weggevee't.



Die vrou


Somer en herfs en winter trek in wye

onafgebroke wisseling deur die land,

maar sy bly draer van die lente want

liefde het haar verhef bo die getye.


Haat en verwoesting plant hul lamfervlae

in honderd stede en oral sink die nag;

vir háár op wie ook bloed en worsteling wag

klink nog die lied van vrede en welbehae.


Die uitgeteerde ruiter neig sy sens

en aarselend voor die klaarheid van haar blik

erken selfs hy sy heerskappy se grens:


in haar wat die onsterflikheid bewaak

ontkiem die toekoms in die flou getik

van lewe wat voorwêreldlik ontwaak.