SMIT, Bartho



Ouman


Ek het 'n man op straat gesien

Met 'n afgrond voor hom


'N man soos ons almal 'n man

Op reis en die bome die huise

Het omgedraai agter sy rug

En sy dae het verkalk in sy hare


'N man sonder wêreld in sy oë

Sonder kind sonder hemel

In sy voorkop nog woorde

Wat slaap in sy ore 'n man


Kaal geheel en al kaal

(Met net sy twee hande

Twee dooie fisante)

Op reis in twee skoene


En 'n afgrond voor hom