HAMBIDGE, Joan



Onbegrypbare raaisel


My liefste, ek dra jou met my

saam op my paspoort, my instapkaart

na nuwe stede en ervaringe.

By elke doeanepunt word my siel

geëndosseer met herinneringe aan jou.

My liefste, jy dra my met jou

saam in beelde in jou daaglikse roetine

van opnames maak, foto’s neem.

Met elke roetinetaak word jou siel

gefotografeer met gedagtes oor my.

Ons dra mekaar onbegryplik en raaisel-agtig

saam van dag tot dag op verskillende kontinente

en ek sien jou mond – ‘n groot bloeiende wond –

en weet: na jou moet ek terugkeer –

terstond.



Vir wie skryf jy jou gedigte?


vir Johann de Lange


Vir woordfeeste waar, uitgestal

saam met ander “gewilde digters”,

jou optrede verydel word

deur laatkommers of feesgangers

op soek na iets beters

wat die deur oop en

toe laat konsertina?

Vir daardie geliefde wat nooit die gedig

oor jou hunkering en pyn

sal lees nie en net onthou

dat die bed immer haaks was?

Vir ’n vlymbekkige kritikus

’n byltjie aan't slyp

oor ’n onbetaalde rekening

op ’n ander plek en tyd?

Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,

en nóg minder die bynaam kan onthou,

wat familiêre groete stuur

via ’n ander onbekende siel?

Vir jou pa aan die "ander kant"

wat in drome verskyn

aan jou oudste suster

in ’n blazer en das

en met woorde van vertroosting?

Vir jou ma wat jy versoek

om eerder nie die gedigte te lees nie,

sodat die pyn van ’n troostelose jeug

stiekem kan verbygaan?

Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke

voer oor jou verknoopte psige

en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?

Vir jou vriend wie se kind

selfdood pleeg sonder ’n afskeidsnota?

Vir jou mededigters wat smaal

“die voorlaaste bundel was beter”?

Vir buitelandse digters wat ontsyfer

aan vertalings getransporteer

van een taal na ’n ander, immer in transito?

Vir jou susterskind

skrywend aan ’n opstel oor jou digkuns

timmer timmer laatnag?


L’envoi


Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,

(en ’n gedig wat oop en toe konsertina)

keer terug na Auden, o amateur, en weet:

’n gedig laat niks gebeur!



/////////////////////////////////////////////


Ongerymdhede dring die dag binne

my shrink (soos my heiland) hoor my nie

my vriende versaak my

misverstande tussen my en haar

word woedende stiltes

die natuurskoon bedreig my

die oseaan woed 'n springgety

en 'n skip sukkel om oor die einder te verdwyn

en die here weet:

ek kan nie eers meer 'n fokken vers fabriseer nie

dus wag ek, geduldig,

voel die vesels van die vers

laat die dices weer val

draai die rymwoordeboek, speel Russiese Roulet

ongerymdhede in 'n vrye vers

praat van dae gevul met stiltes

my vriende en my shrink begryp nie meer

misverstande tussen my en haar stapel op

soos onbetaalde rekeninge

die natuurskoon pas nie in nie (dis geen natuurvers)

en 'n skip sukkel om oor die einder

van dié vers te verdwyn

en die oseaan bly immer magtig, wydgestrek.