KRIGE, Uys


Dood, die onsterflike / 5

Tree saggies, saggies, moet hul nie verras.

Hier klop 'n duisend harte in die gras,

hier sluimer hul waar nou die bye soem,

hier gloei die rose wat eens wange was

Hier waar die klokgras kopspeel in die wind,

hierwaar die wêreld stil is soos ’n kind

wat slaap, hier rus hul, droom hul nu terwyl

die lente blomme om hul slape bind.


Verse/5

Deel jy die strak geduld, die swye van die palm

wat steeds as seng en skroei die son, rustig sy kalm

koel skaduw bied… deur die snikhete stilte wag,

om ruisend met die reën te sing sy soet psalm;

die krag, die weerstand van die stoer olyf wat stoei

en stry as teen sy stam rukwinde stormloei,

aldus hul wrok trotseer, dieper sy wortels dring

om ferm-vas hom tot die aardekors te boei;

die stilte van die sterrenag, groots, ongemeet,

wat donker vloei soos ’n rivier, vol, diep en breed

dan sal jy dalk jou wanhoop en jou wankelmoed

oorwin, jou met jou lot versoen, en ook jou leed.